INHOUD

  • Ingenieursdienste en Toerusting wat Druk op die Habitat Verlig.
  • Alternatiewe Energie: sonenergie, verkoeling, verhitting, yskaste, vrieskaste, koelkamers, boorgate en pompe.
  • Terreinoudit.
  • Energie-Oudit.
  • Habitat-bewussyn.
  • Voeding, Gesondheid en Skoonheid.
  • Miere & termiete; Bome, hout & organiese materiaal; Water; Swamme; Bye; Slange, rotte, insekte & paddas.
  • Korporatiewe wetenskaplike benadering tot industriële ontwikkeling, stedelike ruimtes en ongerepte natuur.
  • Navorsingsfonds.

INGENIEURSDIENSTE EN TOERUSTING WAT DRUK OP DIE HABITAT VERLIG.

Die ingenieurswetenskap  het ekovriendelike huishoudelike en industriële toerusting ontwerp as alternatief vir konvensionele toerusting. Gebruik daarvan is noodsaaklik om die agteruitgang van die habitat te stop. Hierdie toerusting funksioneer almal teen ‘n baie laer bedryfskoste as konvensionele toerusting.

Die ingenieursbedryf lewer ‘n omvangryke diens deur wetenskaplike navorsing, ingenieurs, tegnici, ambagsmanne en selfs handlangers en skoonmakers. Gestel die ingenieursbedryf verdwyn skielik:

  • Die wêreldekonomie sal dieselfde dag ineenstort.
  • Dood weens hongersnood en blootstelling sal daagliks toeneem in momentum en binne ses maande sal die wêreldbevolking minder as die helfte van sy huidige getalle wees.
  • Verbruikerskeuses – nie getalle nie - sal die habitat begin vernuwe terwyl dit nou vergaan.

‘n Mens is nie ‘n redelose dier nie. Deur waarneming maak hy afleidings en deur wetenskaplike ondersoek bewys hy dit as waar of vals. So het hy mikrolewe leer verstaan en epidemies voorkom deur kieme met dodelike potensiaal, saam met riool en rommel te verwyder uit woongebiede en dit selfs te verwerk tot nuttige produkte.

Ontdekking van die verskil in gedrag van onsigbare kerndeeltjies van verskillende grondstowwe, het gelei tot die kernbedryf wat groot voordele gebring het onder andere in hospitale, vir kragopwekking en in die konstruksiebedryf. Dit het reeds in 1945 konvensionele oorlog na kinderspel laat lyk.

Sedert ‘n halfeeu gelede het mense op die maan geloop. Vir etlike jare al word grondstowwe vanaf planete gebring en soek ons daar selfs na waterbronne. Daar is al mense wat ‘n deposito van miljoene Dollars betaal het vir ‘n vlugkaartjie om oor twee dekades te verhuis na Mars. Hulle wil die aarde verlaat, terwyl tegnologie bestaan wat enigiets onder die hemel kan vernuwe.

Die ‘Marsreisigers’ is niks anders nie as 80 000 toeskouers by ‘n sokkerwedstryd wat daarna sewe ton rommel agterlaat, oppad terug na hul eie huis in ‘Marsstraat’.

Wetenskaplikes eerbiedig ons Skeppingsopdrag om te bewerk en te bewaar. Die gewone mens skep egter ons ondergang deur verbruikerskeuses en -gedrag.

ALTERNATIEWE ENERGIE

Sommige uitvindings en beginsels waarop konvensionele huishoudelike en industriële toerusting ontwikkel is, is reeds bekend vir baie eeue. Die konvensionele gloeilamp is een van die oudste vorme van kraggebruik om lig te maak deur middel van weerstand.

Konvensionele stoofplate, oonde en waterverwarmers (geisers) maak almal gebruik van energiebenutting deur weerstand. Toerusting wat lig of hitte deur middel van weerstand verkry, is verantwoordelik vir by verre die grootste deel van die elektrisiteitsrekening van wonings, restaurante, fabrieke, myne, gastehuise, vakansieoorde, ens.

In al hierdie gevalle is energiebesparende toerusting beskikbaar. Alternatiewe toerusting wat nie deur weerstand funksioneer soos konvensionele toerusting nie, bespaar tot 70% en selfs meer, van die krag wat konvensionele toerusting verbruik.

Aankooppryse was aanvanklik hoog, maar sommige van die alternatiewe toerusting is reeds goedkoper as konvensionele toerusting – byvoorbeeld lugverkoeling!

Nywerhede ontwikkel toenemend nuwe produkte wat veiliger en doeltreffender toerusting bied as konvensionele toerusting.

Waar toerusting wel duurder is as konvensionele toerusting, word die ekstra koste binne ‘n kort tyd verhaal uit die goedkoper maandelikse bedryfskoste daarvan.

In die landbou word bereken dat die volledige koste om ESKOM-krag te vervang met sonkrag, binne minder as vier jaar afbetaal kan word uit die maandelikse besparing. Daar is al enkele myne wat volledig van elektrisiteit voorsien word vanaf aanliggende sonkrag-opwekking. Die grootste probleem om sonkrag op groot skaal te gebruik is dat die regering ESKOM besit.

Sonkrag.

Die son bied in een dag genoeg energie om die hele aarde van elektrisiteit te voorsien vir langer as ‘n jaar. Dit is ‘n feit, ook dat sonpanele met die oppervlakte van ‘n gewone huis, genoeg elektrisiteit opwek om krag te voorsien vir alle ligte en toerusting van vier sulke huise.

Enige voorwerp, selfs die mens se liggaam, is ‘n geleier van hitte, wat ‘n klein kragstroom skep. Silikon is een van die doeltreffendste materiale vir hierdie doel en silika is oral in ons land beskikbaar. Silikonskyfies word aaneen geskakel om as een geheel ‘n sonpaneel te vorm en dus ‘n groter stroom van elektrisiteit. Hoe meer sonpanele aaneen geskakel word, soveel meer elektrisiteit is beskikbaar.

Hierdie elektrisiteit is ‘n gelykstroom wat gestoor word in diep-sikliese batterye. ‘n Omsetter omskep gelykstroom na ‘n wisselstroom wat nodig is vir elektriese toerusting. ‘n Reguleerder sorg dat die regte hoeveelheid krag beskikbaar is volgens die vraag van toerusting binne en buite geboue.

Dit is hoe elektrisiteit opgewek word met hitte van die son. Moontlikhede is onbeperk. Daar is byvoorbeeld toerusting en ligte beskikbaar wat werk met gelykstroom en dus kan die koste van ‘n omsetter uitgeskakel word. ‘n Mens hoef nie alle toerusting wat elektrisiteit gebruik dadelik om te skakel na sonkrag-elektrisiteit nie. Dit is moontlik om sonkrag stuk vir stuk in te skakel soos wat ‘n mens dit kan bekostig.

Lugreëling, koeltorings en luggordyne.

Lugreëling werk soos alle vries- en yskaste met ‘n geslote gasstelsel. Dit lewer ook ‘n bydrae tot aardverwarming en gebruik baie elektrisiteit.

Koeltorings gebruik geen gas nie. Dit is basies net ‘n motor en waaier, met water wat bly sirkuleer. Dit kan dieselfde koel temperature as lugreëling gee. Aankoop- en herstelkoste van koeltorings is baie goedkoper as konvensionele lugreëlaars. ‘n Luggordyn is relatief goedkoop. Installasie daarvan bo oop deure soos van restaurante en huise kan die kragverbruik van ‘n konvensionele lugreëlaar met tot 80% verminder.

Verhitting.

Waterverwarming en stowe gebruik meer elektrisiteit as enige ander toerusting. ‘n Hittepomp is ekovriendelik en gebruik minder as 50% van die krag wat ‘n konvensionele geiser vereis.

Induksieplate kos minder as die vervanging van ‘n stoofplaat. Magnetisme (goedkoopste), kom in plek van weerstand (heel duurste). Met konveksie-oonde is die besparing presies dieselfde.

Ondervloerse verhitting, verhitting van vertrekke en waterverhitting in ‘n swembad vra groot hoeveelhede krag as dit konvensioneel gedoen word terwyl soveel goedkoper weggekom kan word met ‘n hittepomp en/ of Sonwaterverwarming.

Yskaste, vrieskaste, koelkamers.

Motors (kompressors) het tevore gewerk soos die enjin van ‘n voertuig met suierstange en suiers. Vandag is Wankelmotors ingebou by kompressors, met laer kragverbruik, meer ekovriendelik, minder onderhoud en motors met ‘n langer leeftyd.

‘n Yskas se elektrisiteit kan met net een sonpaneel opgewek word! Dieselfde kan gesê word van koelkamers wat net meer sonpanele sal benodig.

Boorgate en Pompe.

Dompelpompe het konvensionele slagpompe en draaipompe grootliks vervang met baie laer aankoopkoste en onderhoud. Die probleem in al drie gevalle is steeds konvensionele duur elektrisiteit.

Dompelpompe kan wel kleiner en goedkoper wees as dit deur sonpanele van elektrisiteit voorsien word.

TERREINOUDIT

Dit behels ‘n ondersoek na alles op ‘n terrein, insluitend geboue. Afhangend van die diens wat ons moet lewer sal dit op spesifieke fassette fokus, maar word nie-spesifieke probleme ook aangedui. Energieverbruikende konvensionele- en ekovriendelike toerusting is deel van ‘n terreinoudit. Peste en plae kom binne, sowel as buite geboue voor. In baie gevalle, indien nie die meeste nie, hou probleme verband met die terrein en buitekant van geboue.

‘n Terreinoudit sluit in, grafiese voorstellings soos sketse, tabelle en fotos. Aanbevelings is gerig op

  1. probleme wat kosteloos opgelos kan word;
  2. latente probleme wat voorkom kan word; en
  3. moontlike veranderings op die terrein wat probleme uitskakel.

‘n Tipiese terreinoudit word bespreek onder slange, waar nywerheidsontwikkeling en die natuur bots.

ENERGIE-OUDIT

Dit gaan oor

  1. die verbruik van energie binne geboue, maar ook oor energieverbruik van toerusting aan die buitekant, soos byvoorbeeld waterpompe, swembaddens, mikrosproeiers, ens;
  2. die eienskappe en teenwoordigheid van energie wat in die algemeen voorkom soos son, water, lug, lig, wind, ens;
  3. die hoeveelhede energie wat verbruik word deur bestaande toerusting;
  4. die oorspronklike beplanning of gebrek daaraan, vir regulering van temperature en elektrisiteitsverbruik; en
  5. die rol wat gespeel word, maar so maklik mis gekyk word, van vensters, deure, humiditeit, temperature binne elke vertrek, soorte en plasing van toerusting, ruimte (volume) van vertrekke en/ of geboue wat meer as een vlak het.

‘n Energie-oudit sluit in, grafiese voorstellings soos sketse, tabelle en fotos. Aanbevelings is gerig op

  1. probleme wat kosteloos opgelos kan word;
  2. latente probleme wat voorkom kan word; en
  3. byvoeging of verandering aan of weglating van toerusting, ruimtes, ens, om energie so goedkoop en doeltreffend as moontlik aan te wend.

HABITAT-BEWUSSYN

Die aarde is geskep in ‘n onveranderlike orde. Ekostelsels is aanpasbaar en het oor baie eeue verder bly uitkring. HABITAT is ‘n groter geheel wat al die ekostelsels en hul gemene delers in die omgewing insluit.

Tegnologie moet voortdurend verbeter om

  1. die groeiende vraag na nuwe ontwikkeling te ondersteun;
  2. aan die wêreldbevolking wat steeds vermeerder, lewensruimte te bied; en
  3. om te verseker dat aanpassings wat gemaak moet word deur die natuur, moontlik is.

Die habitat skep wel ruimte vir aanpassing van ekostelsels, maar die natuurlike soepelheid van ekostelsels bereik breekpunt weens volgehoue onbedagsaamheid, of moedswilligheid. Soos wat soepelheid bly afneem, wurg ‘n ekostelsel dood.

Ekostelsels kan soms wel herstel in ‘n begeleide proses. Die koste daarvan is egter duur.  

Kennis van die habitat is volop. Dit word egter verkeerd vertolk deur leke. Op sosiale media word dit meesal verwring. Omgewingswetgewing bereik gladnie sy doel nie. Korrupsie help die mislukking aan.

In landelike areas, selfs ongerepte natuur en ekostelsels waar elemente of die geheel reeds op ‘n gevaarlys is, vind nadelige tegnologiese ontwikkeling ook plaas, nog eens omdat wetgewing gebrekkig is. Regerings maak dus roekeloosheid moontlik. So word kumulatiewe druk op ‘n ekostelsel ‘n tydbom.

Onder die kumulatiewe gevolge van onverskillige uitbreiding en ontwikkeling sal ten laaste, onoorkomlike katastrofes, ons ‘moderne beskawing’ laat inplof. Alle vorme van lewe soos ons dit ken sal dan verdwyn. Uit dieselfde onveranderlike kern sal ekostelsels weer ontwikkel in natuurlike eenvoud.

Tegnologie sonder volhoubaarheid is ‘n misdaad teen die mensdom. Volhoubare bestuur van natuurkragte is ‘n eenvoudige, maar lewensbelangrike taak. Die hele Skepping word geraak.

Die Witwatersrand het ‘n eeu gelede bekend gestaan as die Witwatersberg wat strek van Heidelberg in die Oostelike Hoëveld, deur die Oos- en Wesrand, tot verby die Botswanagrens. Goud word direk suid van die Witwatersberg aangetref. Dit beteken ontwikkeling deur mense wat baie gevaar kan inhou vir die habitat.

Van die Witwatersberg af, soms tot 50 km suid, kom oppervlakkige diamante voor. Wetgewing vir rehabilitasie van grond wat versteur is het in die Sewentigs gehelp om wanpraktyke hok te slaan, maar letsels van meer as twee eeue vooraf, het blywende skade veroorsaak aan die habitat.

‘n Ondergrondse stroom water loop aan die suidekant teen die Witwatersberg en is op plekke selfs breër as 20 kilometer. Afloopwater, spruite en riviere ten noorde van die Witwatersberg loop almal na die Indiese Oseaan, oos van Afrika. Water aan die suide van die Witwatersberg loop na die Atlantiese Oseaan, wes van Afrika.

Reënval ten suide is sowat 150 mm per jaar meer as aan die noordekant, maar dag- en nagtemperature aan die noordekant is twee grade meer as aan die suidekant.

Die Witwatersberg is maar een voorbeeld van hoe verskille tussen ekostelsels ontwikkel.

In die geval van verskeie groter bergreekse oral in Suid-Afrika, kan daar selfs ‘n subtropiese / rypvrye sone aan die noordekant wees, met ‘n sone aan die suidekant waar swaar ryp voorkom. Dit vertel ons net dat ‘n reuse verskeidenheid omstandighede wat insluit hoogtes, laagtes, hitte, lig, lug, grond en vog, ‘n dramatiese invloed op die natuur het en so ontwikkel ekostelsels van uiteenlopende aard.

Hoe nader dag- en nagtemperature aan mekaar is, hoe beter die kans vir reën. Die stand van die maan wat in die ruimte om die aarde wentel het ‘n groot invloed op reënvalpatrone. In die sewe dae rondom volmaan, val meer reën as in veertien dae daarna. Beplanners van opelugfunksies erken die verskynsel.

Blomme word nie net bestuif deur bye nie, maar ook onder andere deur naaldekokers, vlinders en selfs brommers!

Brommers gee geboorte aan groot getalle piepklein wurmpies wat soos ‘n bolletjie fyn houtsaagsels saamklont. Hulle staan ook bekend as ‘maaiers’, wat teer op dooie weefsel tot alles verwerk is. Wanneer ‘n byekolonie om een of ander rede vrek, sal brommers toesien dat maaiers die dooie bye en jongbye (papies) ontgin/ verteer. Hulle kan egter nie die dop verwerk nie en laat dit agter.

Miere en kewers verwyder hierdie omhulsels vir opgaar van vog en vir boustof in hul blyplek. Die maaiers vrek wanneer hulle nie meer aas het nie en so word selfs hul oorblyfsels ook verwyder.

Wasmotjies stel net belang in die was van byekolonies. So sorg die ekostelsel vir harmoniese bestaan van almal en hou hy homself skoon en netjies.

Wat hierbo gebeur het is tipies, die een se dood is die ander se brood. As dit nie so verloop nie, vrot die swerm en jongbye wat nog nie uit hul kokon is nie. Maar verrotting tree nie net in sonder iets wat dit aktiveer nie, naamlik mikro-organismes.

‘n Vrugteboord, plantasie, graanland, groentetuin, soortgelyke agrariese aktiwiteite en ‘veredeling’ van plante en diere waar menslike ingryping betrokke is, is strykdeur kunsmatig (sinteties). Oningeligte of onverskillige kultivering in sulke gevalle lei tot skade aan die ekostelsel. Die mens hou dit selde in gedagte.

Sintetiese projekte is egter vandag absoluut noodsaaklik. Sintetiese bees- en skaaprasse wat volgens ‘n spesifieke formule deur kruisteling ontwikkel word, klop deesdae meeste van die tradisionele rasse, in verskeie opsigte.

Slaglamkompetisies word feitlik strykdeur gewen deur die Dorper skaapras – ‘n sintetiese ras. So is die Bonsmara ook ‘n sintetiese beesras, wat in karkaskompetisies met suiwer en gekruisde diere, die beste is.

Die renostervoëltjie het van ‘n baie groot populasie verminder tot ‘n bedreigde spesie sedert toename in chemiese bekamping van inwendige en uitwendige parasiete. Gifstof wat daarvoor gebruik is het ook die renostervoëls gedood.

Toe dit amper te laat besef is het die Onderstepoort Navorsingsinstituut, die voëls in toetse gebruik om die farmaseutiese firmas te motiveer om gifstof te ontwikkel wat die voëls nie benadeel nie en steeds die parasiete bekamp. Hier het ons dan te doen met ingryping wat tot skade gely het, wat daarna deur ingryping reggestel is.

Menslike ingryping in die natuur kan dus baie goeie gevolge hê vir produsente en verbruikers. Aan die ander kant het menslike ingryping met verbetering in gedagte, soms rampspoedige gevolge.

Gifstof waarsonder plantproduksie beswaarlik in die vraag kan voorsien, is die oorsaak van ‘n tekort aan bye vir bestuiwing, spesifiek in plantproduksiegebiede.  

Onafhanklike akademiese navorsing ondersoek alle moontlikhede. Dit beteken dat verskeie wetenskaplike dissiplines saam ingespan kan word om dieselfde probleem te probeer ontrafel.

Eike in kommersiële plantasies van Europa wat vir jare ongeskonde was, het skielik op groot skaal begin vrek. Verskeie wetenskaplike dissiplines het die oorsaak gevind by ‘n natuurlike bos wat moes plek maak vir ontwikkeling soos onder andere paaie.

Masjienerie vir siviele konstruksie is daarvoor gebruik. Na afhandeling is die konstruksiemasjienerie verskuif na ‘n volgende werksterrein. Plantreste en grond het op die masjienerie gebly en toevallig was die omstandighede gunstig vir oorlewing. Phytophtora het so vanaf die natuurlike bos naby en later binne ‘n Eik-plantasie beland.

Nou ontstaan die vraag, hoekom het Phytophtora die Eike laat vrek, maar nie die bos waar dit vandaan kom nie? In die area wat ontbos was, was die spesifieke Phytophtoraspesie vir eeue teenwoordig en het die bome ‘n weerstandigheid daarteen opgebou – die swam en die gasheer het dus deur seleksie en uitskakeling van die swakstes, begin om saam te bestaan. Dit is verder so dat die mikrolewe in kompetisie met mekaar oorleef binne ‘n onversteurde area.

Wanneer van daardie mikrolewe in ‘n ander ekostelsel beland waar ander vorme van mikrolewe in balans met mekaar funksioneer, ontstaan skielik ‘n versteuring. Die bome ken nie die Phytophtora wat die versteuring veroorsaak nie, dit het ook nie ‘n weerstandigheid daarteen en staan skielik voor ‘n dodelike uitdaging, in plaas daarvan om weerstand te bou.

Mense lei daaruit af dat swamme uitgeroei moet word en dink dat swamme skadelik is. Swamme dien egter net ‘n goeie, heilsame doel binne ‘n ekosisteem. As jy die swam verwyder uit sy natuurlike plek binne ‘n ekostelsel, versteur jy die stelsel en dan is dit jy wat ‘n probleem veroorsaak.

Meeste mense dink ook dat ‘n boompie, blomplant, ens. uit ‘n kwekery ‘gesond’ is. Nie alle kwekerye bestuur egter die kunsmatige omgewing van die kwekery na wense nie. ‘n Swam wat nie ‘n invloed het op een plek nie, word vervoer na ‘n ander plek waar die moontlikheid van ‘n probleem wel na vore kan kom.

Dit is waarom sulke streng in- en uitvoerregulasies bestaan.

Die uitheemse Indiese Spreeu sal byvoorbeeld inheemse Houtkapperspesies totaal verdring waar hulle intrek neem. Daarom is ‘n Indiese Spreeu ‘n ‘pes’.

Paaie is een van die grootste vernietigers van die habitat. Dit neem voetverkeer na plekke waar dit nooit voorgekom het nie. Paaie neem ook patogene wat op een plek natuurlik en in balans met sy ekostelsel funksioneer, na plekke waar dit die dood veroorsaak.

Die hoofpaaie tussen Kairo en Kaapstad is die grootste verspreider van HIV.

Voor die VSA ‘n supermoondheid geword het, was die Koperduif in Noord-Amerika by verre die meeste van alle voëlspesies. Hierdie duif het nogtans uitgesterf tussen 1850 en 1910 as gevolg van toetrede van die mens. Die Koperduif was uniek in die sin dat hy slegs op een eier gebroei en verder dat hulle elke winter migreer het. Toe ontdek die groeiende mensegetalle die Koperduif en ontstaan daar ‘n kultuur of liewer, sosiale nuutjie, terwyl ontbossing vir ontwikkeling ook toeneem.

Voëljagters het onder die populasie van miljarde Koperduiwe ingevaar. Weens die groot getalle wat beskikbaar was, het die jagtogte ook buitengewoon gesofistikeerd en georganiseerd geword.

Benewens jagters het die groeiende getal mense in die duiwe ‘n bron van vleis gesien. Hul eiers en selfs jong kuikens het ‘n eksotiese dis geword, net soos paddaboudjies vir die Franse! Ontbossing het hul broeiplek verwyder en binne 60 jaar verdwyn ‘n duifspesie van die aarde wat tevore in miljarde getel het.  

Water wat opdam rondom ‘n plant wat uit ‘n woestyn kom, veroorsaak dat die plant vrek. As jy egter sorg dat die water om die wortels tot die onderste punte weg dreineer, sal dalk net die ‘swakker’ plante vrek, of selfs niks nie.

In die woestyn waar die spesifieke plant voorkom kry hy baie min water, of selde. Nou verskuif ek hom na ‘n area waar hy gedurig water om sy wortels het. In die ekostelsel waar hy natuurlik voorkom is hy weerstandig. Ek verskuif hom na my tuin met baie water en dan is dit soos ‘n bokser met sy hande in boeie – hulle sal hom doodslaan. ‘n Patogeen (mikro-element wat dodelik kan wees), kry dus kans om via die wortels, die res van die plant te dood.

Van hierdie voorbeeld is inligting in besondere detail te sien op ons webtuiste  www.boomlusern.net.

Iemand wat eers ‘n habitatbewussyn het sal nie ophou om die wonderlike verskeidenheid te leer ken nie.

Deur kennis ontwikkel liefde en respek wat volhoubare lewe op aarde verseker.

Kyk mooi na die voorgaande twee reëls:

Die brein van ‘n mens moet bewus wees (kennis dra) van die wedersydse afhanklikheid van al die elemente in sy omgewing (habitat). So ‘n bewussyn skep ‘n liefde en respek vir ander lewensvorme buite die mens. Liefde en repek daarvoor maak bewaring daarvan moontlik en dus, voortgesette lewe.

Spesies wat hulleself benut is kanibale. Benutting van spesies anders as jou eie, sit kos op die tafel, maar dit is net so nodig vir voeding (oorlewing) van ander lewensvorme in die habitat binne die lewensruimte rondom jou. Meeste mense dink dit gaan net oor die diere en plante wat hulle sien.

Wat hulle nie sien nie hou egter goeie sowel as slegte moontlikhede in:

Wat ons sigbaar sien as ‘normaal’ kan dalk beteken dat alle lewensvorme wat deel is van, of nodig is vir voortbestaan van die enkele spesie, in balans met mekaar funksioneer. Dit sal ook beteken dat elkeen van daardie lewensvorme dieselfde harmonie in wisselwerking met mekaar sal ervaar en gesond sal bly.

Om in balans of harmonie met mekaar te bestaan beteken nie dat spanning nie bestaan nie. Hierdie ‘elemente van lewe’ skep gedurig spanning onder mekaar en in gebalanseerde omstandighede sal die een nie die ander ‘uitwis’ nie. Die spanning versterk die stelsel.

Eeue gelede het die swakstes van elkeen uitgesterf tot ‘n stadium bereik is waar die skaal balanseer.

In Mosambiek leef Malaria in harmonie met mense waarvan hul etniese oorsprong binne daardie gebied is. Harmonie beteken dat hulle weerstandigheid opgebou het teen mekaar. Op ‘n dag kom iemand van Kanada of Gauteng waar geen Malaria is nie. Sodra die Malariamuskiet hom steek om bloed te suig, gee hy ook die Malariavirus af.

Die ‘vreemdeling’ het nie ‘n weerstandigheid soos die inheemse ras nie en word siek. As hy nie suksesvol behandel word nie, sal hy doodgaan. Dit kom neer op die goue reël in die natuur dat die swakste sterf. In hierdie geval, die een sonder weerstandigheid. As hy voorkomend behandel was voor hy daar opgedaag het, sou hy wel tydelike weerstandigheid gehad het.

Die ‘slegte moontlikheid’ van dit wat ons sien as normaal, dra reeds die dood daarin (soos die begin van kanker in ‘n mens), of dit kan nog ‘gesond’ lyk terwyl ‘n groterwordende wanbalans, ‘siek’ beteken, wat eers in ‘n gevorderde stadium, sigbaar siek sal vertoon.

Of ons die probleem al sien of nog nie sien nie, die finale stadium is die dood.

Deur kennis kan degenerasie vooruit verwag en voorkomend daarteen opgetree word.

Gebrekkige kennis kan vervang word met toepaslike kennis. Ons ignoreer dit soms vir tydelike voordeel, of ons is bloot agtelosig. Dan is dood gewaarborg.

‘n Oningeligte mens verstaan nie ‘n probleem nie. ‘n Onbedagsame mens steur hom nie daaraan nie.

As jy nie weet dat ‘n tekort aan spoorelemente (onsigbaar) ontstaan nie, in voeding (gras) waar veld oorbewei word en die afname in ‘gehalte’ van weidingsoorte in die winter, sal voedselaanvulling en medisyne net help as jy weet watter spesifieke tekorte aangevul moet word.

Liefde en respek vir elke lewensvorm in die natuur is presies dieselfde as liefde vir jouself en presies dieselfde as vir jou medemens. Liefde en respek moet balanseer tussen hierdie drie.

‘n Olifant is baie groot en sal respek afdwing as jy dit nie het nie. Afdwing kom neer op vrees, nie net vir olifante nie, maar ook vir lewensbedreigende spesies soos luiperds; slange; giftige plante, ens.

Lewe op aarde sluit mense in, saam met die diere en planteryk en onsigbare lewensvorme. Groot- en mega-boerderye sal nie minder word nie. So ook sal gebruik van gifstof vir beskerming van oeste nie maklik afneem nie. Die gebruik van enige gifstof hoegenaamd, hou in alle gevalle, gevaar in vir die habitat en daarby ingesluit, die mens - verbruikers.

Sedert supermarkte begin het om ‘organiese’ produkte te adverteer as ‘meer gesonde’ voedselprodukte, het ‘organiese boerdery’ vastrapplek gekry. Vandag is daar al heelwat klein organiese boerderye wat geen chemiese middels gebruik nie. Daar is ook ‘n groeiende aantal mediumgroot- en selfs enkele groot boerderye, wat gevolg het, wat minstens gedeeltelik oorgeskakel het na organiese boerderymetodes. Let wel, gedeeltelik is nie vergeefs nie.

Dit is i) altyd ‘n verandering ten goede; en ii) soms omdat die moderne boeredery nie eensklaps kan oorskakel in praktyk nie, of omdat dit nie meer ten volle moontlik is nie.

Organiese boerdery in eenvoud beskryf, maak nie gebruik van chemiese voedingstowwe of gifstof nie.

Daar is in die afgelope vyftig jaar wel deur wetgewing vordering gemaak om sekere gifstowwe in geheel van die mark te verwyder en ander aan te pas vir minder skadelike invloed. In geheel gesien, bly hierdie pogings gering. Dit het hoofsaaklik te doen gehad met gifstof soos Dieldrin en BHC wat aangebore afwykings by babas tot gevolg gehad het.

 ‘n Mens sal ook byvoorbeeld lees op houers met geneesmiddels of middels vir die doodmaak van spesifieke peste en plae, dat vrugte, groente, vleis, ens, nie vir ‘n sekere tydperk na toediening van die middel, bemark kan word vir menslike gebruik nie. Ook in hierdie gevalle is daar geen beheer oor wat gebeur in praktyk nie.

Nie eens die uitsterwing van plant- en dierespesies was belangrik genoeg vir regerings om sekere chemiese middels deur wetgewing van die mark te verwyder nie. Sogenaamde ‘sondebelasting’ word gehef op alkohol- en tabakprodukte, maar iets soos ‘morele misdaadbelasting’ word nie oorweeg vir gebruike wat die habitat verwurg nie.

Die wet verplig vervaardigers van tabakprodukte om op die pakkie te waarsku dat gebruik daarvan, kanker kan veroorsaak. Nie alle rokers laat hulle daardeur afskrik nie.

Terwyl die mens onder risikos van kanker, beroertes, VIGS, hartaanvalle, ens, voortgaan om homself te benadeel, ontwikkel die farmaseutiese huise binne ‘n paar jaar tot ‘n paar dekades, chemiese middels om nuwe gevare te voorkom of te genees.

Mense wat dus kort tevore nog gesterf het aan dodelike siektes, kan danksy die farmaseutiese wetenskap saamleef met daardie siektes tot in hul gryse ouderdom, of ten volle genees word.

VOEDING, GESONDHEID EN SKOONHEID

Soos in organiese boerdery, het daar op die terrein van gesondheid, ‘n groeiende ‘alternatiewe geneesmiddel-bedryf’ ontwikkel. Net so alternatiewe of aanvullende gesondheidsmiddels en alternatiewe skoonheidsmiddels, wat minder of gladnie, ‘n bedreiging vir die habitat inhou nie.

Die vervaardiging van alternatiewe genesende en voorkomende middels het reeds so ‘n groot omvang, dat die kapitaalkragtige chemiese farmaseutiese bedryf, die winsgewendste van sulke organiese middels, opslurp en self bemark.

‘n Mens moet eintlik praat van alternatiewe gesondheid en alternatiewe genesing. Ouer mense wat voor ongeveer 1930 gebore is, kan nog baie plante beskryf wat gebruik is in die plek van gekoopte medisyne. Ons kyk na so ‘n paartjies:

Rooibosekstrak kan velkanker genees, of minstens voorkom.

Ongewensde swangerskappe is gestop met die drink van ‘n ekstrak van koraalboompitte.

Flaksolie en groentee, voorkom en oorkom hardlywigheid.

In die griepepidemie van die Twintigerjare is gevind dat meer mense in huishoudings oorleef het waar ‘n geskilde ui permanent op die tafel gesit is. Vroue het nou ‘n geskilde ui in yskaste wat verderf voorkom.

Rooipeper is op gereelde basis gebruik om aanpakking in are te bekamp.

Visolie is in die winter gedrink om verkoues te bekamp. Later het die waarde van visolie ook duidelik na vore gekom in voorkoming of stabilisering van hartvatsiektes.

Produkte soos Omega3 en salmolie in kapsules word vandag deur die meerderheid van mense bo die ouderdom van vyftig jaar gebruik.

Ons kan voortgaan met sulke voorbeelde. Daar is reeds baie boeke geskryf hieroor.

Dit bring ons by skoonheidsmiddels en selfs modes. Pelse wat gebruik is vir klere soos hoede en jasse was vyftig jaar gelede nog weens die koste daarvan, ‘n teken van bogemiddelde welvaart. Vandag is dit ‘n skande om so iets te dra.

Elke vrou het vyftig jaar gelede nog ‘n armband of juweel van ivoor in haar versameling gehad. Vandag dra niemand dit meer nie. Net so word skoene nie meer van slangvel gemaak nie.

Produkte soos seesout word in verskeie middels verwerk om ‘n mooi vel, of voetsole te verkry. Etlike plantsoorte is ook deel van ‘n lang ry van grondstof vir skoonheidsprodukte.

Salwe is vir eeue reeds gemeng uit bestanddele van plante.

Daar is natuurlik in al die verdienstelike pogings om die habitat te beskerm ook belaglikhede soos wat in die karakoelbedryf gebeur het. Ons het groot abattoirs waar diere geslag word vir proteiene op die tafel, maar omdat karakoel-lammers kort na geboorte geslag word, het smartvrate daarin geslaag om die bedryf tot stilstand te dwing.

Sulke mense word ongelukkig oral aangetref waar baie verdienstelike werk gedoen en in werklikheid deur onverstandige emosie beklad word.

Emosie en dwang is twee toestande in die mens wat verwarring veroorsaak en wat bewaring en rehabilitering van die habitat, groot skade aandoen. Dit vervreem verstandige en gewillige medewerkers wat steeds vêr te min is.

Om op te som:

Die wêreld het vir eeue lank, geen chemiese middels geken nie. Aptekers het ‘n eeu gelede nog baie medisyne self gemeng uit natuurlike bestanddele.

Toe begin die farmaseutiese wetenskap om middels wat in groot aanvraag is, te ontleed. Wanneer die ontledings gedoen is, vervaardig hulle deur goedkoop chemiese bestanddele, chemiese middels in massa.

Die mensdom het al hoe meer geword. Massaproduksie het die eenheidskoste van chemiese middels verlaag en dus die vraag daarna verhoog.

Die vraag na natuurlike middels het in dieselfde proses verlaag .

Die ekonomie van skaal het organiese middels vir aanwending tot voordeel van die mens en sy habitat, onderdruk en in baie gevalle versmoor.

Die Habitat Groep is deeglik bewus van die groei wat weer plaasvind in organiese en biologiese bedrywe, maar moet vir eers by hierdie kort oorsig volstaan.

Ons sal egter in die toekoms meer feiteblaaie op hierdie webtuiste laai wat in baie meer diepte sal handel oor elke fasset van die bedryf.   

MIERE EN TERMIETE

Miere speel ‘n baie normale en noodsaaklike rol in ‘n natuurlike omgewing (ekostelsel), maar dieselfde rol het ‘n negatiewe impak in ‘n stedelike omgewing.

Waar ‘n termiet- of mierkolonie sigbaar is in natuurlike sowel as stedelike gebied, sien ons maar ‘n klein persentasie van wat onder die sigbare oppervlak gebeur. Die gate bokant die grondoppervlak is bedoel as in- en uitgang- en indra-plekke, maar dit is ook noodsaaklik vir ventilasie. Selfs ‘miershope’ wat lyk soos ‘n hoop harde klei, het by nadere ondersoek klein gaatjies wat na binne groter word. Die magdom miere binne die kolonie, veroorsaak dat die hitte teveel word. Hitte styg en ontsnap dan boontoe deur die gate.

Daar is baie soorte miere en termiete, maar die mees basiese werkwyses is dieselfde.

Die binnekant van ‘n kolonie is kompleks. Tonnels met stewige en goed uitgevoerde wande word soms vir etlike meters ondertoe gemaak. Die materiaal daarvoor is ‘n mengsel van grond, vog en maaginhoud.

Onder die hoofingang sal die tonnels lei na ‘n sagte sponsagtige koek, baie ligter as die verwerkte klei rondom. Dit staan in die algemeen bekend as ‘brood’. Daarbinne of direk daaronder, is ‘n baie harde kleikoek – ook met tonneltjies na die sentrum – waarin die koningin bly in ‘n ovaalvormige kamer(tjie). Die ‘kamer’ is eerder ‘n tronksel, want die in- en uitgange is net groot genoeg vir die werkers.

Sy bring eiers voort wat deur die werkers werkers uitgedra en versorg word vir ontwikkeling tot volle wasdom.

Werkers gaan van ‘miersgate’ af weg om kos en woonmateriaal te kry en terug te bring na die kolonie. Hulle sal voorkeur gee aan water, proteïen, soetigheid en stysel as verbruikbare items. Dooie goggas, miere, hartjies van sade ens, is ‘n goeie bron van proteïene. Stysel van saad en suiker (soetigheid) is ‘n energiebron.

Binne geboue kom meesal werkers voor wat op hul pad, water, suikerkorrels en soetigheid soos stroop, konfyt en koeldrank oes – ook krummels - om na hul kolonie toe te vat. Om miere binne ‘n gebou dood te maak is om net ‘n fraksie van die probleem aan te spreek. Meer sindelikheid en beter verwydering van afvalkos, sal baie beter resultate oplewer.

Jy kan die pad van ‘n ry miere volg om die oorsaak van die probleem te kry naamlik, hul kolonie.  

Termiete word meesal aangetref op oop stukke grond wat begroei is met plantmateriaal soos grasperke en natuurlike gras. Hul sal ook gedroogde hout op hope en die onderkant van houtgeboue en pale benut as dit nie beskermend teen miere/ termiete behandel is nie.

Miere is lief om die onderkant van bome aan te val en is net so gemaklik daarmee om baie hoog in bome op te klim, op soek na houtmateriaal en gom (soetigheid). Hulle oes ook nektar in blomme. Kyk onder ‘Bome’ in 2 hieronder, vir meer besonderhede.

BOME, HOUT EN ORGANIESE MATERIAAL

Onder bome kan mens nie anders as om ook te praat van karton, papier, gras, houtgeboue en stukke hout en stompe wat op terreine voorkom nie. Enige houtagtige materiaal is werkgeleentheid vir miere.

‘n Verkeerdgesnoeide of onnodig beskadigde stam en tak van ‘n boom skep van die begin af reeds ‘n risiko omdat dit ‘n boom blootstel aan mikro-patogene, houtwurms, miere, ens. Onbehandelde saag- en snymerke, maak krake en miere begin werk daarin deur die sagste dele eerste uit te ‘vreet’ en na die kolonie te dra.

Sodra spasie binne ‘n beskadigde boomstam groot genoeg is sal ‘n kolonie van spesifieke miere wat langs die stam is selfs daarheen uitbrei. Normaalweg sal hul bloot net met die uitholproses voortgaan en die ondergrondse kolonie vergroot.

‘n Mens kan nie net ‘n boom snoei of afsaag en dink jy is klaar nie. Die saagwonde moet verseël word met ‘n spesiale verf wat redelik goedkoop beskikbaar is by minstens sekere hardewarewinkels of plekke wat verf verkoop.

Veral by groot geboue is die terreinbestuurder geneig om bome ‘op’ te snoei. Dit lei tot die verstopping en roes van geute en vestiging van peste. Ongeag die natuurlike vorm van bome, is dit die ideal om hulle jaarliks ‘terug’ te snoei, tot onder die geute van geboue.

Bome wat bekend is daarvoor dat hulle hoog uitgroei, moenie naby geboue geplant word nie, maar verder weg. Daar is nou ‘n neiging om geen geute aan geboue te sit nie, met ‘n laag van beton of ander materiaal op die grond, wat water laat wegloop in ‘n grasperk, bedding, of voortjie.

Konstruksiehout direk op die grond, takke en stamme van bome, sowel as enige houtagtige materiaal in rommel (papier, hout, karton), is blootgestel aan son, reën, swamme en kleiner lewensvorme. Saam omskep hulle hierdie bron in ‘organiese materiaal’ wat deur miere na kolonies toe weggevoer word.

Termiete (‘stokkiesdraers’ in omgangstaal) word eers as probleem beskou in ‘n droogte wanneer hulle die ‘laaste gras’ opknip en by hul kolonie indra. Wat hul eintlik doen is om daardie ‘laaste gras’ af te oes vir toekomstige gebruik voor dit vergaan. Plante op enige land sal opsigtelik beter groei toon op plekke daarin, waar mier- en termietkolonies bestaan het.

Alhoewel dit nie meer so ‘n goedkoop alternatief is nie, is houtgeboue, houtheinings, houtvloere, ens., vir mense ‘n mode en vir miere, termiete, fungi, ens, ‘n uitnodiging. Moenie hulle versoek nie. Die handel beskik oor etlike vorme van behandeling wat hulle in geheel sal weerhou om die hout aan te val (te benut).

 ‘n Boom waarvan die takke nie korrek gesaag en/ of behandel word nie, sal ‘gate inval’. Afhangend van die soort boom, sal miere ook aan snywonde begin ‘werk’ om kos na hul kolonie te neem. Gate met ‘n lengte van tot meer as vier meter aan die binnekant van ‘n stam is redelik algemeen bekend.

Wanneer mikke tussen takke ‘n holte vorm, bly water daarin staan en hou dit die bas rondom vogtig. Die  tussenposes waarin vog aangevul word deur water, word verhoog deur stof en blare wat daarin val. Mettertyd droog die bas uit, maar tussenin is dit ook ‘n ideale plek vir swamme om te vestig. Miere sal dooie bas begin oes vir die behoeftes van hul kolonie. Sodra dit gebeur begin die vorming van ‘n gat binne die stam.

Die gate kom noodwendig later by mekaar uit en vergroot in breedte en lengte. Sodra die volume binne groot genoeg is, sal ‘n trekswerm bye dit kan kies vir die vestiging van ‘n kolonie. Hoe groter die tonnel, hoe makliker sal die bye dit aanvaar as permanente tuiste, maar...

In die vrye natuur is die gemiddelde kolonie baie kleiner as die stadsgemiddeld. Verder is houtagtigheid gekombineer met skadu, vir hulle verkieslik.

Hout sal oor die algemeen altyd deur miere benut word. Dit is dus belangrik om onnodige houtmateriaal van terreine te verwyder, want dit lok miere.

Ongelukkig is daar by meeste geboue ook hout saam met ander materiaal betrokke. Die mees algemene behandeling van hout teen miere is kreosoot wat in verskillende vorme vermeng word – deesdae ook as komponent van alluminium verf.

Wanneer ‘n mens verplig is om te saag of snoei aan ‘n boom, of om dit in geheel af te saag, moet dit eerstens netjies gedoen word sonder om ‘n deel van die bas of hout onder die bas te skeur. Tweedens moet al sulke wonde verseël word om verrotting en benutting deur ander vorme van lewe te beperk.

Bome waarvan die wortelstelsels vaster grond verkies bo sanderige grond, sal neig om om te val of om te waai. Bome wat sanderige grond verkies is normaalweg baie afhanklik van dreinering. As sulke bome gevestig word in swaarder grond, sal dit meer sensitief wees vir swampopulasies wat drasties uitbrei waar stilstaande water is.

Swamme in die regte omgewing verrig ‘n goed gebalanseerde funksie in kombinasie met ander elemente in die omgewing. Wanneer ‘n boom gevestig word wat nie natuurlik daar hoort nie, sal dit deur mikrolewe uit die weg geruim word. Dit beteken geensins dat die mikrolewe van nature sleg is nie. Dit beteken wel dat ‘n boom beland het in ‘n omgewing waar dit nie hoort nie en dus die natuurlike harmonie versteur.

Alle bome is afhanklik van vog onder die grond om voedsel te kan opneem. Bome waarvan wortels diep indring sal normaalweg meer vog benut. Dit is bekend dat daar al plekke was waar ‘n boorgat in geheel opgedroog het. Toe is bome in ‘n radius van vyftig meter om die boorgat afgesaag en kon die boorgat weer benut word. ‘n Bloekomboom met ‘n stamdeursnit van 300 mm. (lengte van ‘n gemiddelde mansskoen), gebruik 200 liter water per dag.

Dit gaan ook nie net om uitputting van ondergrondse waterbronne nie. Die massa van water is een kilogram per elke liter. Die massa van harde houtsoorte soos tambotie, olienen en kameeldoring, kan per volume selfs swaarder wees.

As ‘n voorwerp met ‘n massa van een kilogram op jou voet val vanaf een meter hoogte, sal dit pynlik wees. As dit van ‘n hoogte van twintig meter val, kan dit jou voet vergruis en as dit op jou kop val sal dit tydelike of permanente breinskade tot gevolg hê, of selfs dodelik wees.

Ons praat van net een kilogram. ‘n Stam wat val kan dus skade aanrig met gepaardgaande verliese van tienduisende of honderdduisende Rande as dit op ‘n motor of huis val. Afsaag van bome of dik takke is gevaarlik as ‘n onkundige persoon dit doen. 

BYE

Kyk op internet ook asb na ons webtuiste www.thebeeman.co.za vir insiggewende inhoud.

Elke byekolonie is slegs een organisme (een lewensvorm), met hul koningin die rede vir hul voortbestaan.

Sonder ‘n koningin of geleentheid om ‘n nuwe koningin groot te maak, kan geen lid van die organisme (al die bewoners in die kolonie), voortbestaan nie. Hulle sal vrek binne ‘n paar dae. Die individue in ‘n kolonie is soos ledemate van een liggaam en die kolonie in sy geheel, soos ‘n enkele liggaam.

Dit beteken egter nie dat die koningin soos in ‘n monargie, alles bepaal wat moet gebeur en wat reg en nie reg is nie. Daar is wel individuele vorme van intelligensie binne elke kolonie. Sy kies byvoorbeeld nie haar opvolger nie en besluitneming laat die natuur sy gang gaan.

‘n Aantal vroulike jongbytjies word gekeur wat onderling meeding totdat ‘n wenner uit die stryd tree. Die wenner vlieg op haar beurt na ‘n vlei-agtige of waterryke area so na moontlik aan haar kolonie. Daar kan sy nie die minnaar (hommelby) op haar wittebrood kies nie. Solank sy daar (moet) vertoef, word sy gejaag deur honderde hommelbye vanaf verskillende ander kolonies in die omgewing.

In die jaagtog kompeteer hulle en die een wat haar eerste vang, mag maar. Hy val daarna uit die kompetisie (bed!). So word sy deur tot selfs dertig (vinnigste/ sterkste) hommelbye, gevang en eenmalig in haar lewe bevrug. Dit is dus die beste manlike- en vroulike genetika wat uiteindelik vermeerder in elke kolonie. Wanneer ‘n koningin later ‘uitgelê’ is, sal sy vrek.

Terug in die kolonie, kan twee koninginne nie saam bestaan nie en word die swerm tussen hulle verdeel. Die helfte wat dan vertrek, staan bekend as ‘n trekswerm. Hulle het geen heuning, voedsel, of jongbye (in broeistadium) om te beskerm nie en soek slegs na ‘n nuwe tuiste. As ‘n geskikte plek nie dadelik gevind word nie, sal hulle aan ‘n tak of onder ‘n skaduplek saam bondel om hul koningin, terwyl werkers gaan soek na ‘n geskikte woonplek.

Hul volgende taak is om wit waskoekies te bou en dadelik druppeltjies heuning daarin te vorm, terwyl ‘n groep deurentyd om die koningin bly en begin bou aan haar tuiste wat omring sal word met waskoeke waarin sy ‘eiers’ lê.

So vervang jong bye die ouer bye en as die ruimte van die kolonie te klein word vir uitbreiding, begin die proses om af te swerm (kloning), van voor af.

Wanneer en hoekom maak ‘n mens bye dood?

Ja, dit is so, ‘n mens kan ‘n byekolonie doodmaak en soms moet jy! Maar watter norme geld in so ‘n geval?

Prof Erik Holm is baie wyd bekend as entomoloog. Hy is ook ‘n direkteur van die ZZ2 Boerderye wat tegelyk die wêreld se grootste tamatieprodusent en Pinzgauerteler is. Hy verduidelik in een van sy koerantartikels op skrif, dat dit verkieslik is om minstens een byekolonie lewendig te verskuif uit ‘n stedelike gebied waar hulle ‘n las is, na die vrye natuur(LET WEL), vir elke twee swerms wat gedood (moet) word.

Dit beteken nie dat twee uit elke drie kolonies doodgemaak moet word nie! Dit beteken net dat dit nie in alle gevalle moontlik is om ‘n kolonie lewend te verwyder nie. Die Habitat-Groep verwyder selfs meer swerms lewendig as wat prof Holm voorstel, omdat daar vee- en wildplase naby is.

Sulke verskuifde swerms woon waar hulle tradisioneel volop aangetref is, meesal in kleiner kolonies (voorkeurorde) in dooie bome; gate in lewende bome; rotse; en mierneste. Soms ook tussen sekere boomspesies se lewende takke, of onder hope takke van bome wat geval het, sowel as in kliphope.

Rankplante wat redelik hoog groei en verdroogde palmbome is ook vir bye ideale plekke om te vestig.

Vloere van tydelike geboue soos ‘zozo’-hutte en skeepshouers wat bokant die grond gelig is, bied plek vir kolonies om onder te skuil waar hulle moeilik bereikbaar is.

Bye is ook baie lief om deur stukkende luggate onder vloere en bokant plafonne in te trek. Hulle sal ook deur openinge bo en onder dakke ingaan en in gate waar pype deur ‘n muur gaan en nie behoorlik geseël is nie. Die heel gewildste plek waar hulle nie maklik bygekom word nie, is om deur ‘n gaatjie van buite die muur, onder ‘n bad in te trek.

Kerkgeboue met hul hoë spitsdakke bied ‘n groot vestigingsplek in stedelike gebiede. Hulle het soms tot ‘n hele paar kolonies wat hoog tussen die fassieborde en dakke woon. Baie maal woon hulle vir jare lank daar. Een kerk se kolonies stuur dus etlike trekswerms na ander wonings in die buurt waar hulle ‘n verpesting vir ander mense kan wees.

Om te verhoed dat bye by openings intrek, moet eerstens gesorg word dat daar nie onnodige openings is nie. Meer as 90% van fassieborde onder dakke het iewers openings waar kolonies baie graag vestig. Onnodige openings word gelaat met pype en drade wat deur mure van buite na binne ingesit word. Lugverkoeling, geisers en toevoerpype vir water is die eerste plekke waar gate gesoek en toegemaak kan word.

Dit is nie absoluut effektief nie, maar ‘n redelike goeie afskrikmiddel, as openings onder dakke, luggate, die onderkant van strukture wat nie direk op die grond staan nie, behandel word met Jeyes Fluid. As dit met ‘n spuit aangewend word, moet dit verdun word in een deel Jeyes Fluid en twee dele water, sodat die spuitstuk nie verstop nie. Dit moet elke jaar aan die begin van Juliemaand gedoen word omdat kolonies vroeg in die lente reeds begin afswerm.

Ons het reeds melding gemaak van die kontrasterende werklikheid van bye wat ‘n verpesting in die stad aan die eenkant en baie voordelig op plase aan die anderkant is. Waar lande bewerk word, word gifstof in byna al die gevalle gebruik vir doodmaak van wurms en ander patogene soos swamme, ens. Bye besoek sulke plante vir onskadelike, maar baie voordelige redes en word dan onnodig dood gemaak. Laer bestuiwingsvlakke van plante, het swakker oeste tot gevolg. ‘n Verstandige produsent sal dus versigtig omgaan met metodes om plae te beheer.

Gif is en bly egter die rede vir uitsterf van kolonies waar plante verbou word. Daarteenoor bestaan byekolonies wel in groot oppervlaktes weiding en bos as dit minstens drie kilometer weg is van die naaste land waar plantproduksie plaasvind.

Hierbo het ons gesien uit die lewenskringloop van ‘n gesonde kolonie bye, dat minstens een keer per jaar, ‘n trekswerm wegstuur kan word, normaalweg in die warmer dae na die winter. Dit beteken dat byekolonies in ‘n stadsgebied, elke jaar VERDUBBEL, terwyl kolonies in en om plase net kan voortbestaan waar hul buite bereik van gekonsentreerde aanwending van gifstof is.

In stedelike gebied neig kolonies om groter te word as in die natuur.

‘n Byeboerdery in korwe is inderdaad ook kunsmatig. Dit is egter ook ingryping deur die mens wat noodsaaklik was om te kan bly voorsien in die vraag. Net so is daar byeboere wat baie groot hoeveelhede kolonies in kaste aanhou, uitsluitlik vir bestuiwing. Hulle verhuur dit vir ‘n paar weke aan boere wat saad kweek. Sodra hulle die werk afgehandel het, word die kolonies weer verskuif na ander gebiede waar verskillende tipes graan en vrugtesoorte op verskillende tye van die jaar, bestuif moet word.

Die beste raad wanneer ‘n kolonie bye in stedelike gebied intrek, is om dit dadelik te laat verwyder. Meeste dorps- en stadsbewoners doen dit nie. Hulle skrik eers wakker wanneer mense gesteek word. Teen daardie tyd het so ‘n kolonie dalk al ‘n paar keer afgeswerm en is die byeprobleem in daardie stedelike gebied vererger.

SLANGE

By verre die meeste slangsoorte is nie gevaarlik vir mense nie. Alle slange met uitsluiting van die Mamba, sal padgee as hulle mense betyds sien en dus nie gekonfronteer of oorhaastig moet padgee nie.

Die probleem kom in wanneer ‘n mens nie die slang sien nie en skielik op hom afkom.

‘n Pofadder is een van die heel stadigste om pad te gee. Al lyk hy lui en stadig kan ‘n pofadder vinniger pik as meeste slange. Sy gif val die weefsel aan en nie die senuweestelsel nie. Waar hy pik sal die weefsel dus doodgaan en dit sal verder versprei. Dit is dus meer soos ‘n wond wat behandel moet word.

Die gif van ‘n pofadder het ‘n veel stadiger uitwerking as gif van die kobratipes en die mambas. Dit het ook ‘n invloed op die organe. As ‘n teenmiddel nie dadelik ingespuit word nie, kan dit die lewerfunksies uiteindelik in geheel tot stilstand bring. Al werk die gif van ‘n pofadder nie so vinnig nie, bly dit dodelik as gesloer word met behandeling.

Die gevaarlikste slangspesies naas die swart- en groen mamba, is die kobra-tipes. In hul voorkoms is die belangrikste gemene deler hul houding in ‘n toestand van bedreiging. Hulle sal die kop optel tot omtrent 150 mm bo die grond en reguit kyk na die bedreiging. Die hoogte wat die kop opgetel word is normaalweg sowat 150 mm. Daar is verslae van slange wat die voorlyf tot naby ‘n meter orent kan laat staan. Dit gebeur hoofsaaklik as daar hindernisse is tussen hom en sy bedreiging, soos lang gras.

Die ander ooreenstemmende eienskap is dat hul die vel van die lyf (nek) onder die kop, plat teen mekaar trek en is hulle op plase deur die werkers ‘n bakkop genoem. Dit staan ovaalvormig uit aan weerskante onder die kop.

As ‘n bedreiging nie padgee nie, sal hulle gif spu na die oë oor ‘n afstand van gemaklik meer as vier meter indien die bedreiging nie binne pik-afstand is nie. Dit is natuurlik giftig, maar behoort nie permanente skade aan te rig nie as die oë gou uitgespoel word met skoon water en die pasiënt daarna behandeling kry van ‘n mediese praktisyn.  

In die geval van enige kobrabyt, word die senuweestelsel aangetas en moet die slagoffer dringend na ‘n hospitaal geneem word. Wat belangrik is, is dat die soort slang so goed moontlik beskryf moet word aan die geneesheer. Behandeling is so dringend dat die hospitaal reeds gebel moet word voor vertrek of so gou moontlik daarna.

Vir die behandeling van slangbyt is serum ‘n probleem. Eerstens het serum nie ‘n lang lewe nie. Dit kan dus nie by elke dokter, apteek of in elke huishouding aangehou word nie, want dit sal baie duur wees om verskillende soorte serum gereeld te vervang.

Serum is gevolglik om ekonomiese redes nie by meeste apteek en dokters beskikbaar nie. Dit is dus baie belangrik om na ‘n hospitaal te ry en hul vooraf te bel.

Die gif van verskillende soorte slange verskil en daarom word verskillende soorte serum vervaardig. Om die verkeerd serum toe te dien kan dodelik wees.

Die luislang, waarvan ons nog nie melding gemaak het nie, word in die media hoofsaaklik uitgebeeld dat hulle diere tot so groot as ‘n rooibok insluk. In die natuur is dit egter nie naastenby hul gewoonte nie. Hulle sal hoofsaaklik voed op klein soogdiere soos ‘n muis, haas, dassie en miskien nou en dan ‘n lam van ‘n bok of skaap.

Die luislang wag sy prooi in en ruk sy prooi dan skielik met die stert nader terwyl sy lyf vinnig om die prooi krul en dit dood druk. Daarna word minstens die voorste gedeelte wat eerste by sy bek ingaan, met gladde speeksel bedek en ingesluk,

Die beste manier om slange weg te hou is om hul eienskappe en gewoontes te ken en te sorg dat hulle nie maklik voedsel kry waar jy hulle nie wil hê nie.  Slange eet enigiets van eiers, insekte en miere tot muise (‘n lekkerny), voëls en paddas.

Vermy plasse water waarvoor insekte en paddas lief is; voorkom skuilplekke soos ongesnyde gras; moenie mierkolonies laat vestig nie; bekamp muisbevolkings; en hou troeteldiere aan, veral ‘n kat. ‘n Hond sal duidelik anders blaf as hy ‘n slang sien. Indien daar in sy oë gespoeg word, was dit uit.

Wanneer ‘n slang in ‘n boom skuil sal voëls onbeheersd lawaai omdat hy die eiers in hul neste vreet. Geveerde diere wat op die grond eiers lê en ook daar broei sal in baie gevalle net die slang los om nou en dan ‘n eier onder hulle te kom gaps, maar wanneer hy ‘n kuiken wil vang sal hulle baie lawaai en hom selfs aanval.

‘n Riglyn wat opgestel is vir ‘n sonkragopwekkingsplaas aan die oostekant van Rustenburg naby Marikana, is apart beskikbaar op aanvraag.

Rotte/ muise, insekte, paddas en water is hier ter sprake, in kombinasie met slange wat sowat een keer per week ‘n werker pik. Rotte en muise kom nie voor op die perseel nie, maar is in groot getalle teenwoordig in lang gras, tussen die perseel en ‘n groot spruit wat omtrent 100 meter daarvan af vloei. Organiese materiaal soos droë gras is beddegoed vir rotte en muise.

Slange beskou muise as ‘n lekker bord kos vir min werk. Dit is die rede waarom daar heelwat slange is. Die spruit is goed begroei met riete en sappige gras. Dit sorg vir heelwat meer insekte. Paddas vang insekte en terwyl dit ‘n groot en lang spruit is, is daar genoeg insekte wat ‘n groter as normale paddabevolking kan voed.

Op die perseel van die sonkragplaas is daar ‘n hele paar duisend sonpanele wat sowat ‘n meter vanaf die grond staan en waaronder ‘n mens nie kan ingaan sonder moeite nie. Die panele maak skaduwee daaronder wat omtrent 25% bedek van die perseel van sowat 50 000 vierkante meter. 

Daar is dus omtrent 12 000 vierkante meter skaduwee.

Onder die sonpanele groei pioniergras en tussen die rye panele is die gras tussen 200 en 300mm hoog. Die grond is gelyk gemaak tydens konstruksie sodat die sonpanele op dieselfde hoogte kan staan. Hoe gelyk ook al, sal daar plekke wees met vlak plasse reënwater.

Dit is turfgrond met sowat 40% klei. Klein hopies mierneste is oral onder die panele, een tot twee meter uit mekaar. Klam turf is relatief sag. Gekombineer met water en organiese materiaal (gras) is dit ‘n skitterende plek vir vestiging van mierkolonies. As ‘n siviele ingenieur wel by die beplanning betrokke was het hy nie sy werk gedoen nie. Die perseel is omhein met maasdraad wat 8mm hoog en 40mm wyd is om slange uit te hou. ‘n Slang en ‘n padda gaan egter onder huisdeure in en dus ook gemaklik deur sulke openinge. Die man wat die spesifikasies vir die heining voorgeskryf het, weet duidelik nie meer van paddas en van slange as net van sien nie.

Die terrein moes tussen die rye panele effens skuins afgewerk word sodat reënwater weg kan dreineer na ‘n vlak voortjie of –afleibaan. Van daar moet dit na die laagste kant vloei waar ‘n groter voor dit uit die perseel uit neem tot by die spruit (nie net tot by die heining nie).

Miere onder die panele is kos vir paddas en slange. Die bedompige area onder die panele is ideaal vir insekte en dus kos vir paddas. Slange eet op hul beurt weer paddas.

As die gras verwyder kon word sou dit die probleem met die helfte verminder het. Die bestuur sê egter dat bossiekappers klippies teen die sonpanele skiet wat dit kan laat breek. ‘n Klomp werkers kap dus die gras korter met pangas (hand-‘slashers’). Die afgekapte gras word in hopies buite die rye gegooi waar dit uitdroog omdat dit een keer per week opgelaai en weg gery word. Onder die hopies gras maak pofadders hulself tuis.

Buite die perseel het ons dus ‘n pragtige natuurlike en lewende ekostelsel. Binne die terrein het ons ook ‘n lewendige ekostelsel met goeie kos en beskutting en die goed gebalanseerde dierebevolking buite, kom dus graag daarheen. Dit is egter ‘n tipies ‘stedelike’ (nywerheids-) ontwikkeling waar slange en miere die minste welkom is. Dus, ‘n ekostelsel wat moes aanpas by die tipe ontwikkeling.

Die logiese stap is om die mierkolonies dood te maak; ‘n voëltipe te vestig wat nie op sitplekke in die lug sit of slaap nie (bv Patryse) en vir hulle kos uit te sit om hulle daar te hou; en ook ‘n klein tipe honderas soos worshondjies of Yorkshire Terriers moet permanent op die terrein bly om te lawaai as hulle op ‘n slang afkom. Die terrein moet ten laaste met baie min verandering, in geheel kan dreineer na reënbuie.

Die eienaars sien nie kans om die mierplaag uit te roei nie en wil nie die koste aangaan om water weg te lei nie. Slegs navorsing kan bepaal of hierdie die beste oplossing is en of daar een of meer beter opsies is.

KORPORATIEWE WETENSKAPLIKE BENADERING TOT INDUSTRIELE ONTWIKKELING, STEDELIKE RUIMTES EN ONGEREPTE NATUUR.

Uit voorgaande sien ons wisselwerking binne ekostelsels en -

= Dat niks in die omgewing onafhanklik bestaan sonder die ander nie.

= Dat daar ‘n balans is tussen die magdom elemente binne ‘n bestaande ekostelsel.

= Dat die balans versteur kan word deur natuurverskynsels, sowel as deur menslike gedrag.

= Dat ontwikkeling noodsaaklik is vir voortbestaan van die mens. Dit is ten beste steeds ‘n versteuring.

= Dat ‘n ingeboude aanpasbaarheid, nuwe balans moontlik maak tussen die nuut saamgestelde elemente

MAAR:

Die mens funksioneer nie net op instink alleen nie. Hy is intelligent en kan redeneer. Die mens is in staat om ontwikkeling in harmonie met die natuur te lei. Meeste mense word egter nie gelei om dit te verstaan nie en hul gedrag is dan onbewustelik ‘n onnodige versteuring van die habitat.

Die wetenskap soek oplossings en is in staat om dit te vind deur ‘n omgewingkundige benadering. As wetenskaplike kennis aangewend word sonder omgewingskundigheid sal dit feitlik deur die bank lei tot onnodige versteurings.

Wetenskaplike kennis moet dus oorgedra word aan die bedryf en ontwikkelaars. Hier moet betrokkenes by ontwikkeling in die breedste moontlike sin verstaan word.

Verbruikers – die gewone man op straat – is in staat om die grootste invloed uit te oefen op onverantwoordelike beplanning en ontwikkeling. Hulle betaal op die eindpunt vir goedere en dienste. Dit is die hefboom wat in belang van die habitat aangewend moet word.

As verbruikers die sleutel hou is dit noodsaaklik dat hulle baie beter ingelig moet word met wetenskaplik begronde kennis. Daar is beslis nie voldoende instrumente in die samelewing beskikbaar om hierdie inligting oor te dra nie.

Mense met gebroke kennis en oormaat emosie vul hierdie leemte en skep ongelukkig meer verwarring as wat dit opbouend is. Gebalanseerde mense word afgesit deur mense met sulke versteurde gemoedere en word eerder ontmoedig as gemotiveer.

Omgewingskunde word nie voldoende benut deur die bedryf en ontwikkelaars nie. Wetgewing moenie gesien word as die finale oplossing nie, dit is ‘n noodsaaklike hulpmiddel en korrupsie kan wetgewing ongedaan maak.

In die naam van eko-vriendelikheid vind soms baie skadelike ontwikkeling plaas. Dit is ‘n wanpersepsie om ‘n vakansieoord op ‘n plaas te vestig, dit wildwerend te omhein en met wild te bevolk en dit dan ‘n ekovriendelike oord te noem. Dit is hoogstens ‘n meer vriendelike omgewing vir menslike ontspanning weg van die stad en nie ten eerste gefokus op die gesonde voortbestaan van ekosisteme nie.

Die veelgeroemde ‘groen stergradering’ dien nie sy doel nie en is nog byna onsigbaar vir die verbruiker. Wetenskap, praktyk en verbruik kan deur groter sigbaarheid van graderings en beter verspreiding van gebalanseerde kennis, ‘n ommekeer bring in die vinnige agteruitgang van die mens se moontlike voortbestaan op aarde.

NAVORSINGSFONDSE

Daar word toenemend geld beskikbaar gestel vir navorsing om die koolstofspoor op aarde en die bydrae daarvan tot aardverwarming te verminder. Aardverwarming is ‘n begrip wat uiteindelik deurgedring het omdat die mensdom dit fisies aan die lyf begin voel het.

Die koolstofspoor van nywerhede en huishoudelike toerusting is natuurlik baie belangrik en kan nie afgemaak word nie. Die klem daarop het reeds gelei tot groot veranderings, waaronder alternatiewe vorme van energie-ontwikkeling en verbruik seker die belangrikste is.

Daar is egter meer wetenskaplike navorsingsterreine wat deurlopend tekorte het aan fondse. Dit handel oor die bewaring van ons ekosisteme, nie noodwendig net in hul oorspronklike staat nie. Dit gaan oor bewaring deur by ontwikkeling wat noodsaaklik is, voldoende wetenskaplike kennis in te bou, wat permanensie gee aan lewe op aarde. Dit sluit in groot herstelwerk waar dit nog moontlik is.

Die Habitat-Groep is aktief betrokke by laasgenoemde. Daar bestaan knyptange wat verbetering moeilik of selfs onmoontlik maak. Een van hierdie knyptange bestaan waar mynboubedrywighede plaasvind. Met hierdie stelling word hoegenaamd nie bedoel dat myne onverantwoordelik optree nie. Inteendeel, myne het meer omgewingsbeamptes in diens as die meeste ander bedrywe.

Die omgewingsbewustheid van myne is net so groot as die een spesifieke knyptang wat ons hieronder bespreek. Ons het gesien hoe elemente binne ‘n ekosisteem soos byvoorbeeld miere, water, insekte, paddas en slange ‘n gedugte kombinasie kan wees. Dit is presies wat hulle is op mynboupersele!

Ongeag hoe netjies en sindelik ‘n mynbouterrein is, is spesifieke navorsing nodig –

Oor bestuur van water, nie net op die perseel nie maar ook op aanliggende terreine en veral aanliggende afloopbane, veld en strome. Water en klam grond bied geleentheid vir insekte en paddas om dit as ‘n gerieflike bestaansruimte te kies, wat op hul beurt weer, daaropvolgende probleme skep.

Oor die voorkoms van bogemiddelde getalle mierkolonies.

Oor die voorkoms van bogemiddelde getalle hoofsaaklik lewensgevaarlike slange.

Oor die vestiging van onnodig baie byekolonies, hoofsaaklik omdat dit op sekere terreine ongestoord toegelaat word. Van daar swerm dit af na aanliggende terreine waar wel goeie beheer uitgeoefen word.

Daar is sonder twyfel wetenskaplike oplossings te vind om hierdie verskynsel beter te kan bestuur.

Samewerking tussen eienaars van verskillende mynondernemings met aanliggende persele is natuurlik baie belangrik en dit kan baie verbeter.

Wat belangriker is, is die finansiering van onafhanklike akademiese navorsing, wat meer as een wetenskaplike dissipline insluit.

Die Habitat-Groep wil graag toesien dat so ‘n navorsingsprojek onverwyld begin deur toekenning van twee M.Sc-beurse en een Phd-beurs vir die navorsing.

Die koste daarvan sal in totaal R600 000 per jaar vir drie jaar wees.

Sulke skenkings kan afgeskryf word op grond van wetgewing wat bestaan om koolstofkrediete te verkry.

Mynbougroepe en groot diensverskaffers aan myne kan hierdie beurse gemaklik finansier uit beskikbare fondse. Hulle moet die belangrikheid daarvan insien en as omgewingsbeamptes by myne daaroor begin praat sal dit ‘n werklikheid word.

Die Habitat-Groep is beskikbaar om ondernemings te help met die organisering en inwerkingstelling van ‘n navorsingsfonds wat as groep-fonds funksioneer.

Dit is ‘n logiese feit, die natuur moet aanpas by ontwikkeling.

Ontwikkeling kan nie ten alle koste aanpas by die bestaande natuurlike habitat soos wat dit was voor ‘n nuwe ontwikkeling nie. Ontwikkelaars is moreel verplig om reg vanaf die eerste gedagte, besluite te neem met gebalanseerde kennis oor die habitat. Dit gebeur nie.

Hoe meer kennis word, soveel nader kom ons aan ‘n verstaan van die oorspronklike skeppingsorde toe uitbreiding van die mensdom en gemeenskappe begin het. Dit is egter onmoontlik om terug te keer na daardie oorspronklike skepping maar die orde kan behou en gekoester word.

Agt miljard mense op aarde kan teoreties met ‘n nugter, gebalanseerde bewussyn, agteruitgang van alle ekostelsels tot stilstand bring. “Teoreties” ja, maar ons ken die mens se natuur. Die VSA en Sjina ontken steeds die feite rondom aardverwarming ter wille van politiek. Nywerheidsreuse in die VSA kan verkiesing van die President, Kongreslede, lede van die Senaat en Goewerneurs na enige kant swaai. Dit geld vir alle groot moondhede.

Benewens gierigheid van groter moondhede en ontwikkelaars, is dit ‘n feit dat agteruitgang niks te make het met ontwikkeling nie, maar wel met oningeligte keuses van mensedie individuele besluitnemers. Hul besluite en optrede is magtiger as wette en regerings.

Baie lande insluitend die RSA het die VN-gedrewe protokol geteken wat vereistes bevat vir vermindering van hul koolstofspoor. Daarom moes wette aanvaar word in die RSA, wat besighede belasting laat betaal as hulle nie hul koolstofspoor met ‘n minimumpersentasie per jaar verlaag het nie. Hulle kan hierdie belasting voorkom deur ‘groen’ projekte te borg. Die projekte moet lei tot ‘groen voetspore’. 

Terug Terug na bo